top of page
maxresdefault.jpg

AFRIKAANSE NUWE MUSIEK

Afrikaanse musiek weerspieël die diversiteit van die Afrikaner: Sedert die tagtigerjare was daar nie alleen tradisionele Boeremusiek benewens populêre musiek (soos veral vervat in die Huisgenoot Skouspel) nie, maar ook alternatiewe strome. Waar populêre musiek (byvoorbeeld Bles Bridges, Cora Marie, Janita Claassen, Rina Hugo en Carike Keuzenkamp hulself toegespits het op die vermaaklikheidsaspek van musiek, het alternatiewe kunstenaars (byvoorbeeld Piet Botha, Bernoldus Niemand, Koos Kombuis en Johannes Kerkorrel) sosiale kommentaar gelewer op Apartheid en Afrikaneridentiteit. Belangrik in voor-1994 Afrikaanse musiek is ook kunstenaars soos Laurika Rauch, Anton Goosen, Coenie de Villiers, Lucas Maree en Koos du Plessis wat hulself beywer het vir die skryf van kwaliteit musiek en lirieke, alhoewel hulle selde direkte sosiale kommentaar gelewer het.

Ná 1994

Ná 1994 is die Afrikaner se herontdekking van sy identiteit in sy musiek weerspieël. Die musikante van Voëlvry het meer inwaarts gekeer, groepe soos Battery9 is gestig wat Afrikaans in nuwe genres gebruik het, en Afrikaans het selfs sy eerste heavy metal-liedjie, Voice of Destruction se "J.M.S.P.", gekry (1995). Sedert 2000 het Afrikaanse musiek 'n oplewing ondervind: Groepe soos Fokofpolisiekar, K.O.B.U.S!, Insek, Straatligkinders, Jack Parow, Brasse van die Kaap en Die Antwoord het Afrikaans in 'n groter verskeidenheid musiekgenres aangewend en daardeur aangetoon dat Afrikaans 'n lewendige en nie eendimensionele taal is nie. Vertalings is ook gebruik om die interkulturele gesprek met veral Europa na die isolasie van Apartheid te hervat: Hier kan veral die Afri-Frans, Afri-Spaans en Brel-projekte genoem word.

Die anti-apartheid protesmusiek van Voëlvry is ook opgevolg met nuwe protesmusiek teen die establishment: Koos Kombuis het na 'n paar verspreide protesliedjies sy "Bloedrivier" album in 2008 vrygestel, en groepe soos Glaskas, Klopjag, Fokofpolisiekar en natuurlik Bok van Blerk het begin om protesliedjies te skryf teen wat gesien word as 'n marginalisering van die Afrikaner, asook die heersende misdaadklimaat.

maxresdefault6.jpg
maxresdefault5.jpg
maxresdefault4.jpg
ROOIBOKSOKKIEEVENTONSAM126.jpg
ROOIBOKSOKKIEEVENTONSAM136.jpg
maxresdefault2.jpg
maxresdefault3.jpg

AFRIKAANSE NUWE MUSIEK

AFRIKAANSE NUWE MUSIEK

AFRIKAANSE NUWE MUSIEK
Afrikaans is Groot 2024 - Die Konsert

Afrikaans is Groot 2024 - Die Konsert

02:10:52
Chris Steyn - Plaas Dorp Toe (Amptelike Musiekvideo)

Chris Steyn - Plaas Dorp Toe (Amptelike Musiekvideo)

03:19
Bernice West - Lyfie (Official Music Video)

Bernice West - Lyfie (Official Music Video)

03:28

Nuutste Afrikaanse Liedjies 2025 - Nuwe Afrikaanse Musiek 2025 Playlist (Musiek Nuwe Vrystellings)

Nuutste Afrikaanse Liedjies 2025 - Nuwe Afrikaanse Musiek 2025 Playlist (Musiek Nuwe Vrystellings)nnLast Year's Title: Nuutste Afrikaanse Liedjies 2024 - Nuwe Afrikaanse Musiek 2024 Playlist (Musiek Nuwe Vrystellings)nnShare your thoughts on our playlist: contact@red-m

Wat is ’n luisterliedjie?

Die woord “luisterlied” kom van die Nederlandse kleinkuns en is in die 1960’s deur die Nederlanders gebruik om hul eie soort folkmusiek te beskryf. Nog ’n woord wat die Nederlanders gebruik het, is “levensliedjes” (lewensliedjies). Jannie beskryf ’n luisterlied ook as ’n lied waarin daar ’n goeie balans tussen liriek en musiek is, ’n lied wat eintlik ’n ligtemusiek-weergawe van die kunslied is. 1

ʼn Luisterlied is ’n lied met ’n dieper betekenis, dis ’n lied waar mens regtig na die woorde “moet” luister, wat nie sommer net in die agtergrond speel nie of ʼn lied vir lekker saamsing of –neurie nie. Dit was liedjies waarmee kunstenaars eintlik hul protes gewys het teen liedjies wat tot op daardie stadium in Afrikaans gesing is en wat nie nuutskeppings was nie. 1 Dit is dus iets met meer betekenis as die “lekker liedjies” van die vorige dekades.

Anton Goosen het in 1979 die eerste Afrikaanse kunstenaar geword wat ’n album vrygestel het waarop hy die woorde én musiek van elke snit geskryf het, iets wat kenmerkend is aan hierdie beweweging.

Goosen en ander musiekkunstenaars soos Koos du Plessis, Jannie du Toit en Laurika Rauch het op dié lekker en gewilde liedjies van onder meer, kunstenaars soos Carike Keuzenkamp, Min Shaw en Gé Korsten verbeter deur diepte en betekenis aan hul eie musiek te gee. Hulle het dus nuwe musiek gemaak.

Hierdie beweging waaroor almal vandag nog praat, het wel net ’n paar jaar geduur, maar het ʼn ingrypende verandering in Afrikaanse musiek gebring waarvan die invloed steeds voortduur.

©Foto: Morné van Rooyen via Wikimedia Commons

Gé Korsten

Die aanloop

As mens wil verstaan hoe belangrik hierdie beweging vir Afrikaanse musiek was, moet jy kyk na die Afrikaanse musiek wat tot in die middel van die 1970’s oor die radio en by musiekkonserte gehoor is. Daar was natuurlik ook uitsonderings, maar die meeste Afrikaanse musiek wat mens gehoor het, was Afrikaanse vertalings van liedjies uit ander tale. Mens moet ook verstaan dat daar in daardie jare nie ander plekke en maniere was om musiek te hoor as by konserte, oor die radio, in televisieprogramme of op plate nie. Televisie was toe ook nog maar baie jonk – die eerste uitsendings het eers in 1975 begin. Daar was ook nie soos vandag sosiale media waar mense musiek per WhatsApp kon stuur of op sosiale platforms soos TikTok of Facebook plaas om dit bekend te maak nie.

©Foto: iStock

Die eerste pogings

  • Daar was wel kunstenaars wat in hierdie jare oorspronklike Afrikaanse musiek geskep het, maar niemand het regtig van hulle geweet of hul musiek gehoor nie omdat dit nie dikwels oor die radio gespeel is of by konserte gesing is nie. Hier is ’n paar voorbeelde:

  • Ouer kunstenaars soos Danie Bosman, Jan Pohl, Anton de Waal en Danie Pretorius het reeds werk geskep wat eintlik reeds luisterliedjies kon wees.

  • Francois (Morg) Jacobs het in 1969 die mooi teks van die digter Louis Leipoldt – “Boggom en Voertsek” – getoonset.

  • Marie Tredoux van Jacobsbaai het lank voor hierdie tyd reeds pragtige liedjies met oorspronklike musiek en Afrikaanse lirieke geskep.

  • Rue Williams het “Dink aan my” geskryf wat in 1965 deur Nick Taylor bekend gemaak is. 2

In die 1970’s was ’n hele aantal sangers en liedjieskrywers reeds ontevrede oor hoe die meeste Afrikaanse musiek in daardie tyd geklink het en hulle het probeer om dit te verander. Kunstenaars soos Laurika Rauch, Louis van Rensburg en Anton Goosen het toonsettings van gedigte gedoen en ook hulle eie tekste geskryf. Groepe soos Trilogie asook Ian en Dix het musiek begin skryf wat anders geklink het. Hierdie mense sou almal ’n rol speel in die Luisterliedjie-beweging wat vanaf 1979 sou volg. Voor 1979 het hulle almal op hul eie ’n nuwe soort Afrikaanse musiek probeer skep.

©Foto: verskaf deur Jopie Koen

Trilogie, 1976

Sonja Herholdt en Anton Goosen

As mens kyk na die geskiedenis en betekenis van die Musiek-en-liriek-beweging moet jy kyk na die invloed wat die samewerking tussen Anton Goosen en Sonja Herholdt op die beweging gehad het.

In 1975 was Sonja Herholdt 22 jaar oud en ’n onderwysstudent toe sy professioneel begin sing het. Sy was in daardie jaar een van drie Afrikaanse kunstenaars wat ’n liedjie op Springbok Radio se Top 20-lys kon kry, maar bowenal was sy die enigste kunstenaar wat dit met ’n inheemse Suid-Afrikaanse komposisie kon regkry. Hierdie lied was “Ek verlang na jou” wat deur Jan de Wet gekomponeer is. Op 25 Julie 1975 het die lied die 14de plek op die Top 20-lys gehaal en dit was die tweede hoogste posisie waarmee ’n Afrikaanse liedjie in die geskiedenis van die Top 20-lys ingekom het. Die lied het uiteindelik gevorder tot op posisie nommer ses en het vir agt weke op die lys gebly. 3

Hierdie was net die begin van Afrikaanse liedjies se sukses op die Top 20-lys.

Anton Goosen se naam het in 1977 as liedjieskrywer bekend begin raak toe hy saam met Tinus Esterhuizen die lied “Totsiens Auf Wiedersehen” vir die sangeres Vicky du Preez geskryf het en dit die 12de plek op die lys gehaal het. In die volgende jaar het nog ’n lied van Anton die trefferlys gehaal – dit was die lied “Hoeka Toeka” wat deur Carike Keuzenkamp gesing is en die 17de plek gehaal het. 2

Ná die sukses wat Sonja met “Ek verlang na jou” gehad het, wou die tydskrif Huisgenoot ’n artikel oor haar publiseer. Anton is gevra om die onderhoud met haar te voer – hy het op daardie stadium onder die skuilnaam Jantjie Blom geskryf. Dit was tydens hierdie onderhoud dat Anton vir Sonja vertel het dat hy ook liedjies skryf. Hulle het afgespreek om mekaar later weer te sien en met daardie ontmoeting het Anton vir haar ’n hele lêer vol liedjies saamgeneem. Sonja het na al die liedjies gekyk en besluit om die lied “Jantjie” op haar eerste album met die titel Sonja (1976) op te neem. 2 Sonja het presies die regte liedjie gekies want “Jantjie” was vir haar én vir Anton ’n uitsonderlike treffer.

Hierdie samewerking tussen Anton en Sonja het vir ’n paar jaar voortgeduur. Vir Sonja se vyfde plaat, Harlekyn, wat in 1979 verskyn het, het Anton steeds die meeste liedjies op die plaat geskryf. 4

©Foto: Suzette van der Westhuizen

Koos du Plessis by ‘n liedjieaand in 1982, Margaretastraat 28

©Foto: Kaapstad Radio via Facebook

Sonja Herholdt

‘Fyn net van die woord’

In 1977 het Stephan Bouwer ’n radioprogram Fyn net van die woord aangebied waarin gedigte van jong en gevestigde digters voorgelees is en sangers soos Laurika Rauch, Koos du Plessis en Nick Taylor gesing het. 5

Met hierdie program het Laurika sommer vinnig bekendgeraak en Stephan het hiermee ook die Afrikaanse luisteraars bekend gestel aan die woord “luisterlied”. 6

Een van die liedjies wat Laurika in hierdie program gesing het en wat later baie bekend geword het, was ’n toonsetting van Ingrid Jonker se gedig, “Toemaar die donker man”. 1

Hennie Aucamp – digter, kortverhaalskrywer en ook bekend as die vader van Afrikaanse kabaret, het met die kabarette wat hy geskryf het, ook ’n groot invloed op die beweging gehad.

©Foto: Laurikarauch via Wikimedia Commons

Laurika Rauch

Die nuwe beweging begin

Musiek-en-liriek-konserte

Die jaar waarin die Musiek-en-liriek-beweging of Luisterliedjie-beweging werklik begin het, was 1979. Op 24 Maart 1979 is daar onder leiding van die digter Rosa Keet ’n eerste konsert met die titel Musiek en liriek in die Laager-teater (deel van die destydse Markteater) in Johannesburg gehou. Kunstenaars wat in hierdie eerste konsert opgetree het, was onder andere Anton Goosen, Laurika Rauch, Clarabelle van Niekerk en Jannie du Toit.

Die skrywer Chris Barnard het oor hierdie eerste konsert die volgende gesê: “… ’n hartsverblydende gebeurtenis vol belofte vir die toekoms”. 1

Vir die res van daardie jaar is daar ’n reeks konserte onder hierdie titel gehou – belangrike kunstenaars wat nou ook deel van die sangers met die nuwe soort musiek geword het, was Koos du Plessis en Coenie de Villiers.

Stephan Bouwer wat sowel ’n digter as ’n kenner van kommunikasiekunde was, het mense wat aan hierdie konserte deelgeneem het, asook die publiek, aan die woord “luisterlied” betekenis gegee. Daarom het hierdie beweging ook bekend begin staan as die Luisterliedjie-beweging. Hierdie beweging is deur die media ondersteun en kunstenaars soos Anton Goosen en Laurika Rauch het sommer binne ’n kort tyd groot en gewilde musieksterre geword.

Die Suid-Afrikaanse Uitsaaikorporasie (SAUK) het simposiums oor die beweging gehou, daar het hoofberigte in koerante verskyn, daar is oral konserte gehou en daar is radio- en televisieprogramme oor die beweging uitgesaai. 1

©Foto: FAK

Musiek en liriek-televisiereeks

Toe kom die belangrikste gebeurtenis met Merwede van der Merwe se televisiereeks met die titel Musiek en liriek wat vanaf Augustus 1979 uitgesaai is en waarin Laurika Rauch, Mynie Grové, Sias Reynecke en Des Lindberg opgetree het. Interessante en onbekende liedjies van verskillende liedjiemakers is ingesluit en die Beweging se naam is na aanleiding van Merwede se reeks verander na die Musiek-en-liriek-beweging. Hulle het almal ander soort liedjies gesing as wat mense wat na Afrikaanse musiek geluister het, tot op daardie stadium gehoor het en aan gewoond was.

Hierdie program het Afrikaanssprekendes opgewonde gemaak oor Afrikaans as sangtaal en oor die goeie liedjies wat in Afrikaans geskryf kon word. 1

Sommer ’n hele klompie nuwe kunstenaars en hulle werk het nou onder die publiek bekend geword: Amanda Strydom, David Kramer, Anneli van Rooyen en Janita Claassen. Nog ’n bietjie later het ander kunstenaars ook gewild geword – mense soos Lucas Maree, Christa Steyn, Danie Niehaus, Marietjie Stoop, André Swiegers en nog ander. Hierdie mense se liedjies het beter lirieke en musiek gebruik, daar was ’n groter verskeidenheid in die soort musiek wat hulle geskryf het en die liriek en musiek in die liedjies het beter by mekaar ingepas. 1

Ook in Pretoria het die bekende musiekkenner en radio-omroeper Joubero Malherbe ’n konsert gereël het met die titel Sang en vers by opsitkers waar sangers soos Janita Claassen, Kobus de Witt, Jannie du Toit, Andy Lubbe, Clarabelle van Niekerk, Laurika Rauch en Anton Goosen opgetree het. Lank voor die konsert was al die kaartjies reeds uitverkoop! 7

Omdat die konsert so gewild was, is dit op 28 Maart 1980 herhaal met kunstenaars soos Koos du Plessis, Mynie Grové, Jannie du Toit en later ook Coenie de Villiers. 1

©Foto: christasteyn.co.za

Christa Steyn

Belangrikste rolspelers

Daar was talle kunstenaars wat deel van hierdie beweging was en dis nie moontlik om almal te noem nie. Hier is ’n paar van hulle wat van die begin af ’n rol gespeel het en vandag steeds musiek maak of wie se musiek, soos dié van Koos du Plessis en Louis van Rensburg, vandag steeds gesing en gehoor word.

Anton Goosen

In 1979 was Anton die heel eerste Afrikaanse kunstenaar wat ’n album bekendgestel het waarop hy al die woorde en musiek geskryf het – dit was iets wat nog nie voorheen gebeur het nie. Daar was sommer ’n hele paar liedjies op hierdie album wat baie gewild was onder gehore en luisteraars en wat vandag steeds gehoor kan word. Een van die liedjies “Kruidjie-roer-my-nie” is ook op Springbok Radio se Top 20 gespeel. Hierdie plaat se naam was Boy van die suburbs en die plaat was nie net in die nuus omdat die liedjies gewild was nie. Nee, twee van die liedjies mag in daardie tyd nie oor die radio gespeel word nie omdat dit deur die SAUK verbied is! Hulle was glo nie tevrede met die lirieke van die liedjies nie. Hierdie twee liedjies was juis die titelsnit, “Boy van die suburbs” en ook die lied “Begrafnistyd in Zeerust”. 2

©Foto: Jopie Koen

Anton Goosen

Koos du Plessis en Laurika Rauch

Hierdie twee sangers – sonder twyfel twee van die heel bekendste Afrikaanse sangers – kan saam genoem word. In die sewentigerjare was Koos du Plessis heeltemal onbekend onder Afrikaanse luisteraars en toe verander dit ewe skielik.

Dit is hoe dit gebeur het …

Katinka Heyns was ’n bekende rolprentvervaardiger en was in hierdie tyd besig om ’n televisiereeks met die titel Phoenix en Kie te maak. Bekende akteurs wat hierin gespeel het, was onder andere Marius Weyers, Jana Cilliers en Dana Niehaus. Katinka het gesoek na ’n sangeres wie se sangstem vir Jana se karakter gebruik kon word en Jana het Laurika Rauch voorgestel. Katinka wou ook spesifiek musiek gebruik van ’n liedjieskrywer wat nog nie bekend was nie. Sy het toe reeds van Koos geweet omdat sy van sy musiek in ’n televisiereeks, Fyn net van die woord, gebruik het. Sy het twee van Koos se liedjies – “Sprokie vir ’n stadskind” en “Kinders van die wind” gekies. “Kinders van die wind” was ook die temalied van die reeks. Hierdie lied het Koos en Laurika oraloor bekend gemaak. Op 14 September 1979 het dit plek no. 17 op Springbokradio se Top 20-treffers gehaal. Uiteindelik het dit tot op nommer drie gevorder en het vir ’n hele 13 weke op hierdie trefferslys gebly! 2

“Kinders van die wind” het natuurlik al hoe gewilder geword en die lied is uiteindelik in 2013 gekies as die grootste Afrikaanse lied van alle tye!

Koos het in 1979 sy debuutalbum onder die titel Skadu’s teen die muur bekendgestel. Buiten die liedjies wat hier bo genoem is, was daar ook “Skielik is jy vry”, “As jy my kon volg” en natuurlik “Skadu’s teen die muur” op hierdie eerste plaat. Hierdie liedjies sou ewe gewild word en word tot vandag deur talle sangers gesing.

Wat baie interessant is, is dat Koos se “Kinders van die wind” en “Sprokie vir ’n stadskind” reeds in die middel van die sestigerjare geskryf is, lank voordat sy musiek (te danke aan Katinka Heyns se televisiereeks) bekend geword het. Maar platemaatskappye wou nie sy musiek opneem nie omdat hulle geglo het dat Afrikaanse musiekluisteraars nie musiek sal koop met sulke ingewikkelde lirieke en melancholiese wysies nie. 1

Dit is onteenseglik waar dat Laurika een van die heel belangrikste kunstenaars in die nuwe beweging van Afrikaanse musiek was. Haar musiek is vandag steeds uiters gewild en al het sy in 2025 aangekondig dat sy nie meer konserte gaan aanbied nie, bly haar musiek voortleef.

©Foto: Irma du Plessis via Wikimedia Commons

Koos du Plessis

Jannie du Toit

Jannie was sterk by die Musiek-en-liriek-beweging betrokke – as kunstenaar op sy eie, as lid van die sanggroep Trilogie, maar ook in die rol wat hy gespeel het deur die liedjie-aande wat gehou is by die huis waarin hy gewoon het naby die Pretoria-dieretuin, naamlik Margareta-straat 28.

Hierdie liedjie-aande wat vanaf 1981 tot in 1983 gehou is, het legendaries geword in die geskiedenis van Afrikaanse musiek. Liedjieskrywers, sangers en mense wat na goeie Afrikaanse musiek wou luister, het elke Vrydagaand by die huis bymekaargekom om na mekaar se liedjies te luister. Mense het nie bespreek of kaartjies gekoop om te kom luister nie, hulle het sommer net opgedaag. Kunstenaars wat gereeld hier opgetree het, was onder andere Koos du Plessis, Janita Claassen en haar sangmaat Erdee van Huyssteen, Anneli van Rooyen, Lucas Maree, Coenie de Villiers, Andy Lubbe, Richard van der Westhuizen, Marietjie Stoop, Ruben Lennox, Morg Jacobs, Clive Doubell en natuurlik Jannie self.

©Foto: verskaf deur Jopie Koen

Janita Claassen en Erdee van Huyssteen

Liedjieskrywers wat ook gereeld daar was, was Babs Pretorius, Morkel Steyn en Theo Naudé. Soms was daar tot 60 mense by die liedjie-aande en mense het sommer oral op die vloer gesit en luister. 1

Toe die liedjie-aande vroeg in 1983 opgehou het, het dit oorgegaan na ’n musiekreeks met die naam Kerslig, vers en melodie wat by die Staatsteater Pretoria (ná 1999 bekend as die Spoornet-staatsteater en tans die Suid-Afrikaanse Staatsteater) aangebied is. Anneli was die aanbieder en daar was elke aand ’n hoofkunstenaar met ’n paar minder bekende kunstenaars wat in die voorprogram opgetree het. Op hierdie manier het nog nuwe kunstenaars die kans gekry om as Afrikaanse sangers en liedjieskrywers bekend te word. 8

Trilogie het ’n jaar voor die Musiek-en-liriek-konsertreeks ontbind, maar hierdie groep wat bestaan het uit Andy Lubbe, Jannie, Morg Jacobs en Clive Doubell het reeds luisterliedjies geskryf en gesing nog voor daar amptelik so ’n beweging bestaan het. Hulle het selfs ’n eretoekenning ontvang in ’n Amerikaanse sangkompetisie! 1

Jannie se eerste Afrikaanse liedjie was ’n gedig van A.G. Visser wat hy getoonset het – “Rosa Rosarum”. Hierdie lied het hy ook op sy eerste langspeelplaat opgeneem. Sy bekende en gewilde “’n Liedjie vir jou” wat vandag steeds deur talle kunstenaars gesing word, het hy reeds in 1978 geskryf. 1

Jannie is steeds besig om musiek te maak met optredes oral in die land en gereeld ook in Europa.

©Foto: Suzette van der Westhuizen

Jannie du Toit by ‘n liedjieaand in Margaretastraat 28

©Foto: Jopie Koen

Jannie du Toit en Louis van Rensburg

Clarabelle van Niekerk

Clarabelle was nie so bekend onder die publiek soos van die ander mense wat betrokke was nie en sy het ook nie vir lank in Suid-Afrika opgetree nie omdat sy in 1986 na Amerika verhuis het. Maar die soort musiek wat sy destyds geskryf en gesing het, het ’n belangrike rol gespeel om nuwe Afrikaanse musiek bekend te maak. Sy het ook opgetree in die eerste Afrikaanse kabaret van Hennie Aucamp, Met permissie gesê. Haar debuutalbum met die titel Ek sê maar net is in 1984 uitgereik 9 en in 2018 het sy ná 24 jaar weer ’n album uitgereik – met al die liedjies in Afrikaans! 10

©Foto: Die Erfenisstigting via Facebook

Clarabelle van Niekerk

Louis van Rensburg

Louis se liedjies was van die begin af uiters gesofistikeerd en van hoë gehalte. 11

Hy was nie net ’n liedjieskrywer en sanger nie, hy het ook die musiek vir talle rolprente en televisie-reekse geskryf, soos onder andere Ballade vir ’n enkeling, Arende, Bosveldwinkel, Bart Nel en Wielie Walie en in later jare ook die gewilde Afrikaanse sepie 7de Laan. 12

Vir jare het Suid-Afrikaners nie net elke aand die kenwysie van hierdie sepie gehoor nie, maar elke stukkie musiek in ongeveer 3 000 episodes is deur Louis geskryf. 13

Louis was ook ’n uitstekende musikant wat verskeie instrumente soos kitaar, klarinet, klavier en saxofoon gespeel het en was ’n perfeksionis wat sy instrumente foutloos wou speel. Volgens Louis self was die kitaar sy gunstelinginstrument. 11

In 2012 het Louis ’n CD uitgereik waarop nie minder nie as 231 musieksnitte was – vanaf sy eerste bekendstelling in 1967 tot musiek wat in 2012 opgeneem is. Om al hierdie musiek op een album te kon inpas, is dit in MP3-formaat opgeneem. 14

©Foto: Jopie Koen

Louis van Rensburg

Coenie de Villiers

Coenie het kort na afloop van die eerste Musiek-en-liriek-konsert by die beweging betrokke geraak toe Rosa Keet vir Jannie du Toit gevra het om hom te gaan opsoek en te vra om aan die reeks konserte te kom deelneem. 1

Coenie vertel hoe Hennie Aucamp tydens ’n konferensie kort ná die begin van die Musiek-en-liriek-beweging die rede was dat hy aangehou het om liedjies te skryf en te sing.

ʼn Man uit die gehoor het na afloop van Coenie se optrede venynige kritiek gelewer. Dit was vir hom so erg dat hy daar en dan besluit het om nooit weer te skryf of te sing nie. En toe staan Hennie op en sê prontuit aan die man: “Ek dink wat ons gehoor het, is ’n werk wat geniaal is en wat ’n hele nuwe platform daar skep in Afrikaans – en hoe Afrikaans en liriek tot nou toe gebruik is en ek dink dis magistraal.” Coenie het agterna vir Hennie gaan bedank en gesê as dit nie was dat Hennie nie geskroom het om sy mening oor die man se kritiek uit te spreek nie, hy nooit weer sou gesing het nie. 15

Coenie word allerweë beskou as een van ons land se beste liedjieskrywers en kunstenaars. Hy het reeds 20 albums met sy eie werk opgeneem en hy tree nie net in Suid-Afrika op nie, maar ook in talle ander lande. 16

©Foto: Ossewa via Wikimedia Commons

Coenie de Villiers

Amanda Strydom

Amanda was 23 jaar oud en volgens haar nog ’n groentjie in die musiekwêreld toe die Musiek-en-liriek-beweging gebeur het. Die beweging het haar laat besef dat Afrikaans “vry” geword het en het gelei tot haar eerste oorspronklike Afrikaanse lied, “Ek loop die pad”, wat deur Zane Cronjé geskryf is. 17

Amanda het vir Hennie Aucamp in 1980 tydens die Musiek-en-liriek-beweging by ’n musiekkongres in Stellenbosch ontmoet. Hulle het tot en met sy dood saamgewerk en kontak behou. 18

©Foto: Olaf Paulisse via Wikimedia Commons

Amanda Strydom

Lucas Maree

Lucas het gereeld tydens sy optredes vertel hoe die bywoning van die liedjie-aande in Margareta-straat hom oortuig het om in Afrikaans te begin liedjies skryf en sing. Hy het tot op daardie stadium net in Engels geskryf en gesing.

bottom of page