










Hoofradiostasie-afskakeling
Radio SAM Broadcasting Studio Germany


Afrikaanse Spook Stories
SPOOKSTORIES VIR DIE WAARHEID- SO EG UIT DIE SUID-AFRIKAANSE SKATKIS. STORIES UIT DIE PEN VAN WITLEEU ;
VRYWARING
NEEM ASB KENNIS DAT ALLE VERHALE, STORIES, AANHALINGS - OF DELE DAARVAN OP HIERDIE WEBTUISTE- SLEGS MITES EN LEGENDES IS WAT GEEN BEWYSBARE RELEVANSIE HET TOT ENIGE PERSOON, PLEK OF GEBEURTENIS NIE.
DIE SKRYWER VRYWAAR HOMSELF VAN ENIGE NAAM, PLEK-OF GEBEURTENIS SOOS WEERGEGEE IN ENIGE VAN HIERDIE VERHALE. DIE VERHALE SOOS HIER NEERGEPEN- IS VERHALE SOOS DEUR DERDE PARTY PERSONE MONDELINGS AAN DIE SKRYWER OORGEDRA- EN GEEN WETLIKE , WETENSKAPLIKE OF ANDERSINS- BEWYSE KAN VAN DIE EGTHEID VAN GENOEMDE VERHALE GEGEE WORD - OF DIE SUBSTANTIEWE WAARHEID DAARVAN NIE.
HIERDIE WEBTUSTE DIEN SLEGS AS ONTSPANNING EN LEESGENOT- EN WEERSPIEEL 'N DEEL VAN DIE BOEREVOLK SE GESKIEDENIS.
PLEKNAME, PERSOONLIKE NAME EN INSTANSIES IS OPSETLIK IN GEVALLE VERANDER OM DIE PRIVAATHEID VAN PERSONE-OF IDENTITEIT VAN PLEKKE TE BESKERM- OMREDE DIT GEEN NUT VIR DIE LESER SAL INHOU NIE.
SKRYWER.

Die mens is gemaak vir stories – die bewyse is om elke kampvuur waar verhale die geselskap laat lag, huil, jil of ril te vind. LekkeSlaap het dit goedgedink om ’n paar van Suid-Afrika se spookstories te gaan opskryf vir lesers se grillerige genot. En, as jy die stories eerstehands wil ervaar, kliek gerus deur – ons het ook verblyf in die dorpe en streke om ’n spookagtige element by jou volgende vakansie te voeg.
De Vliegende Hollander
De Vliegende Hollander is een van die wêreld se bekendste spookstories. Wat dié legende se bekendheid waarborg, is hoe gereeld die gloeiende spookskip al gesien is, een keer glad deur Koning George V van Brittanje toe hy in 1881 nog deel van die Britse vloot was.
Hendrik van der Decken, ’n skeepskaptein van die VOC en sy bemanning was in 1641 op pad terug Nederland toe ná ’n suksesvolle Indonesiese handelsekspedisie, toe ’n erge storm by Kaappunt opsteek. ’n Wyser kaptein sou gewag het dat die storm homself uitwoed, maar Van der Decken het uit arrogansie, ongeduld of dwaasheid, ondanks die desperate pleidooie van sy bemanning, midde die verskriklike branders hardop gesweer dat hy die Kaap sou omseil, al het dit hom tot die oordeelsdag toe geneem. Ongelukkig vir die kaptein het sy eed nie op dowe ore geval nie … Skielik het die storm stil geraak, maar die gedoemde skip sou nooit verder as Kaappunt vorder nie en seil vandag nog verbete iewers tussen die dood en die lewe in die Valsbaai-area rond, vervloek tot die oordeelsdag toe. Blykbaar sien soveel mense die spookskip omdat die bemanning al die jare sonder sukses probeer om boodskappe aan hulle familie aan ander skepe te oorhandig ─ as jy een van die briewe aanvaar, is jy egter verseker gedoem. So seil De Vliegende Hollander vandag nog verbete rondom Kaappunt, sy seile altyd spookagtig gebol soos ’n skip midde ’n storm, al is dit ’n windstil dag in die Kaap …

Die grusame verhaal van Jan Prinsloo se Kloof
Jan Prinsloo se Kloof is ’n versteekte stuk aarde in die Gamtoosriviervallei, tussen Patensie en die Kougadam, en kan slegs deur ’n rowwe, gevaarlike bergpas bereik word. Die kloof is sedert die 1860’s onbewoon, maar die plaashuis en perdestalle se ruïnes staan steeds as herinnering aan die ysingwekkende gebeure wat hier plaasgevind het.
Stephen Goodrick, ’n jong Engelse setlaar, het dié kloofplaas in 1860 teen ’n steelprys aangeskaf. Dit was egter nie lank nie, of Goodrick het die storie van die oorspronklike eienaar, Jan Prinsloo, gehoor en besef waarom die plaas so goedkoop was. Prinsloo was bekend vir sy wreedheid en, sonder kind of kraai, het hy graag met boewe skouers geskuur wat van tyd tot tyd in die afgeleë kloof kom wegkruip het. Prinsloo het sy plaaswerkers soos gemors behandel en op ’n dag ná ’n dorpsuitstappie, verneem hy dat twee van sy slavinne en hul kinders sonder sy toestemming ’n siek familielid gaan besoek het. Hulle straf was dat die vrouens se mans vasgebind en met sambokke geslaan is tot hulle skaars kon loop. Dieselfde is met die vrouens gedoen en hulle huilende kinders is toe sondermeer doodgeskiet. Daardie aand het ’n verskriklike stilte oor die kloof gedaal en Prinsloo het besef dat hy soos sy vinger alleen op die plaas was ─ tot sy spogperde is deur die slawe gebuit. Hy besluit toe om maar ook die pad te vat voordat die slawe kom wraak neem, maar dit was te laat … Net soos Prinsloo wou vlug het sewe slawekrygers op perde oor die donker horison aangekom, hom in die stalle vasgekeer en op onnoembaar grusame wyse vermoor. Die bloedstollende gebeure het in die kloof ingesypel en sedertdien, elke jaar op die 15de Januarie, herhaal die skoktoneel homself. Goodrick en sy vrou was die laaste inwoners van die kloof. Hulle het hulle vinnig uit die voete gemaak sodat Prinsloo se grusame dood voortans in die stil kloof tussen die ruïnes kon uitspeel waar niemand dit meer hoef te beleef nie.
Daardie aand het ’n verskriklike stilte oor die kloof gedaal en Prinsloo het besef dat hy soos sy vinger alleen op die plaas was …

Die Kasteel de Goede Hoop
Dis vanselfsprekend dat die oudste gebou in Suid-Afrika wat steeds in gebruik is ’n paar spoke sal huisves, veral ’n fort soos dié waar honderdes aangehou en gemartel is. ’n Besoek aan die Donker Gat, waar gevangenes in stikdonkerte en koue moes sit, terwyl die branders woes teen die kasteelmure breek, sal enigiemand rillings gee en kan op ’n toer van die Kasteel De Goede Hoop in die Kaapse middestad besoek word.
Een van die spoke wat al hier gesien is, is ’n hartseer grys dame wat ook al in die Tuynhuys gesien is, want daar is blykbaar ’n geheime tonnel wat die twee geboue verbind. Nadat ’n vrou se geraamte in die 1900’s naby die kasteel se ou uitvalpoort opgegrawe is, is die dame se spook egter nog nie weer gesien nie – haar identiteit bly ’n geheim. Dan is daar die spook van Lady Anne Barnard wat graag in die Dolfynpoel bad en die spook van ’n groot, swart hond met bloedrooi oë wat saans in die kasteel se gange waghou. Die bekendste kasteelspook is egter dié van Goewerneur Pieter Gysbert van Noodt, ’n wrede man wat bekend was vir sy mishandeling van slawe en soldate. Sy ongenaakbare behandeling van sy soldate het daartoe gelei dat sewe soldate in 1729 gedros het en vier van die mans toe ter dood veroordeel is in ’n hangseremonie wat Van Noodt nie eens bygewoon het nie. Na oorlewering het een van die vier mans die goewerneur luidkeels vervloek net voor sy doodsvonnis uitgevoer is. Later daardie selfde dag het knegte die niksvermoedende Van Noodt in sy studeerkamer met bloedbelope oë aangetref, morsdood by sy lessenaar ─ daar was vooraf geen teken dat die goewerneur siek was nie. Blykbaar het Van Noodt ’n groot begrafnis gehad wat sy amp gepas het, maar sy kis is met sandsakke gevul en sy lyk is in werklikheid elders begrawe oor sy meerderes hom ná sy vervloeking nie in ’n heilige graf wou begrawe nie. Miskien is dit daarom dat die iesegrimmige goewerneur tot vandag toe vloekend op die kasteel se gronde rondloop en dan net verdwyn …
Later daardie selfde dag het knegte die niksvermoedende Van Noodt in sy studeerkamer met bloedbelope oë aangetref, morsdood by sy lessenaar.

Die Spook van Uniondale
Geen versameling spookstories sal volmaak wees sonder die wêreldbekende Spook van Uniondale nie. Net buite Uniondale op die N9 is daar ’n afdraai na Barendas. Jy sal sukkel om iemand te oortuig om hier ’n ryloper op te tel – veral nie oor Paasfees nie!
Oor Paasnaweek in 1968 het Marie Charlotte Roux, ’n jong verpleegster wat vermoedelik in Riversdal gewerk het, en haar verloofde in ’n wit Volla op hierdie pad verongeluk. Hulle was op pad na Bloemfontein om vir haar ouers te gaan kuier en Marie het by die eerste Barendas-afdraai in die passasiersitplek aan die slaap geraak. Sy is by die tweede Barendas-afdraai met die slag uit die kar geslinger. Miskien is dit juis oor sy aan die slaap was toe hulle verongeluk het, dat sy in die hiernamaals wakker geraak het sonder om te besef dat sy dood is. Wat ook al die rede, Marie stap vandag nog langs die pad met haar donker langbroek en hemp, verward en alleen. Sy gooi glad nie duim nie, maar het al stilletjies by motoriste wat stop om te hoor wat fout is ingeklim en so ’n paar kilometer saam gery voor sy by die volgende afraai na Barendas verdwyn. Sommige sê die geur van appels hang in die lug wanneer sy verdwyn en ander sê dat sy net vra om by Porterstraat 2 afgelaai te word, maar nooit sê in watter dorp nie. Intussen loop Marie Roux alleen langs die pad buite die dorp, skadeloos vir enigiemand wat haar optel, maar tog ’n hartseer prentjie van ’n vrou in die fleur van haar lewe wat nooit haar bestemming sal bereik nie.
Miskien is dit juis oor sy aan die slaap was toe hulle verongeluk het, dat sy in die hiernamaals wakker geraak het sonder om te besef dat sy dood is.


Tokai Herehuis
Aan die bopunt van Tokai-weg waar die straat teen Tafelberg se rugkant doodloop, staan dié indrukwekkende herehuis met sy hoë stoep, vandag die Tafelberg Nasionale Park se hoofkantoor. Meestal lyk Tokai Manor net soos ’n elegante ou Kaaps-Hollandse gebou in die Suidelike Voorstede en op die meeste aande van die jaar is dit nét dit, maar nié op Nuwejaarsaande nie …
In die vroeë 1800’s is die herehuis deur meneer Hendrik Oswald Eksteen besit. Hendrik en sy seun, Frederick, was gaande oor oproerige partytjies en Nuwejaar was veral ’n groot gedoente ─ al die Kaapse elite wou na ’n Eksteen-nuwejaarspartytjie toe gaan. Een jaar het die wyn ’n bietjie té sterk gevloei. Die windmakerige Frederick het by die gaste gespog oor wat ’n goeie ruiter hy is. Natuurlik het een van die gaste die pierewaaier uitgedaag om dit te bewys deur met sy perd by die steil stoeptrappe op te ry en in die onthaalkamer ’n draai te maak en Frederick was natuurlik tog te gretig. Nie lank daarna nie het die gaste gehoor hoe klein-Eksteen sy perd by die trappe opry en by die eetkamer inbars. Vol bravade het hy sommer ’n bottel wyn oopgemaak en vir die perd ’n sopie aangebied, maar die verskrikte dier wou niks weet nie. Daarna het die skouspel na die voordeur se kant toe weggetrek, maar, in sy dronkenskap, op die rug van ’n vervaarde perd en met min houvas op die houtvloer wat vroeër die dag blinkgepoets is, het die paartjie oor die eetkamer se vloer gegly en oor die rand van die hoë stoep getuimel. Die nuwejaarskare se luide toejuiging het vinnig in ’n geskokte stilte verander en van Frederick en sy hings se kant af was daar ook geen geluid meer nie. Frederick se nek het in die val gebreek en sy arme perd moes net daar voor die stoep uitgesit word, die Nuwejaar is met ’n sombere skoot ingelei. Tot vandag toe weergalm die onreëlmatige galop-geluid van die verskrikte perd se hoewe op die houtvloer en die toejuiging van die skare op Nuwejaarsaande deur die herehuis se vertrekke. Die enigste blywende bewys van die tragedie wat hier afgespeel het, is die merk van ’n perdehoef wat nog steeds op die eetkamervloer sigbaar is.
Die nuwejaarskare se luide toejuiging het vinnig in ’n geskokte stilte verander en van Frederick en sy hings se kant af was daar ook geen geluid meer nie.
Tokai Manor voordat dit opgeknap is. | Foto: Wikimedia Commons
Die heks van Hexrivier
Die Hexrivier-vallei net duskant De Doorns op die N1 is sekerlik een van ons land se mooiste valleie met wingerd op wingerd en die persblou Matroosberge se pieke wat in die winter wit bo die plase uittoring. Op maanverligte nagte dra die windjie egter Eliza Meiring, oftewel die heks van die vallei, se huil-geroep. Dan raak die krieke en paddatjies stil en trek die inwoners maar hulle deure dig teen die eensame geluid.
Eliza Meiring, die dogter van ’n gesiene boer in die distrik, was in die laat 1700’s oraloor vir haar oorweldigende skoonheid bekend en die distrik se mans het gereeld ’n oorlas van hulself gemaak. Haar irritasie met die stringe vryers was van só ’n aard dat sy naderhand ’n belaglike huweliksvoorwaarde gestel het: sy sou nét met ’n man trou wat tot op die randjie van die hoogste piek sou klim om vir haar die enkele rooi disa te pluk wat daar groei. Daarsonder kon die vryers maar vergeet, en baie van hulle het, want al die distrik se mans het geweet dat die taak eintlik ’n doodsvonnis was. Daar was egter een man, Frans, van ’n ander distrik, op wie Eliza ten spyte van haar hoogmoed verlief geraak het. Frans het ook van Eliza se huweliksvoorwaarde gehoor en, aangespoor deur sy liefde, die Matroosberg bestyg. Op die laaste oomblik van die klim, net soos hy uitgereik het om die disa te pluk, het die aarde onder hom verkrummel. Frans se stukkende liggaam is gevind, die rooi disa al die tyd styf in sy hand geklem. Toe Eliza hiervan te hore kom het sy waansinnig geraak. Haar ouers het gehoop dat sy naderhand sou bedaar, maar die jong vrou se berou was só groot en haar hart só gebreek dat hulle haar in ’n kamertjie bo in die huis moes toesluit waar, kenmerkend van die sielsiekes, haar skoonheid naderhand in versonke oë en wange, ’n bleek gelaat en vuil, verslonste hare verdwyn het. Een aand het sy haar kamervenster oopgekry en was op pad na die berge toe toe haar nagrok vashaak en sy haar nek op die stene onder die venster breek. Haar voorletters en die jaar 1768 is vandag nog op Buffelskraal se vensterbank ingekerf.
Frans se stukkende liggaam is gevind, die rooi disa al die tyd styf in sy hand geklem.
Die lieflike Hexriviervallei. | Foto: South African Tourism op Flickr
Verlange by die Dullstroom Inn
Dullstroom is ’n gunsteling-bestemming onder kunsvlieghengelaars en, verloor jy ’n bietjie tred van waar jy is, sou jy uit die mis wat skynbaar onophoudelik uit die aarde uit opslaan kon sweer dat jy in Skotland is. Die platteland rondom die dorpie is eintlik heel spookagtig, maar blykbaar is Dullstroom se bekendste spoke nie langs sy mere of in die mis te vind nie. Nee, dit is eerder by die dorpshotel, die Dullstroom Inn, waar hulle wag.
Die Dullstroom Inn was al ’n rusplek vir menigte moeë reisigers, maar dit is ook die gekose wagplek van die dorp se bekendste spoke, ’n vrou genaamd Magda, wat al deur verbygangers in die dorpshotel se venster gewaar is en haar geliefde Sersant Larley. Tydens die Anglo-Boereoorlog is Larley, ’n jong Britse sersant, in ’n veldslag beseer. Magda, die jong, Afrikaanse dogter van ’n plaaslike gesin het in die sersant se sorg gestaan, na sy wonde omgesien en in die proses op hom verlief geraak en hy op haar. Natuurlik, toe Magda se gesin van die bloeiende liefde tussen hulle dogter en “die vyand” te wete kom, is sy van dislojaliteit beskuldig en in die gesinshuis toegesluit om haar van Larley af weg te hou. Sonder die nodige sorg, en met die bydraende las van sy gebroke hart, het die sersant aan sy wonde beswyk. Die jare het aangestap en Magda, lojaal aan Larley tot die einde en onbewus dat hy afgesterf het, het altyd gehoop dat hy haar sou kom haal en het vir baie jare by die houtvuur in die Dullstroom Inn gesit en wag. Selfs na haar dood kon Magda se gees nie afstand neem van die hoop dat Larley sou opdaag nie en sit en wag sy steeds by die vuur wat die hotelpersoneel al vir veertig jaar pligsgetrou stook en nooit laat doodgaan nie. Maar Larley het ook nooit vir Madga vergeet nie. As jy vandag op die hoek buite die Dullstroom Inn staan, is daar die kans dat jy net na sonsondergang die gedonder van perdehoewe sal hoor soos die sersant straataf galop om vir Madga weg te neem en die storie loop dat as jy die soldaat raaksien, jy vir ewig in jou liefdeslewe gelukkig sal wees.
Magda, lojaal aan Larley tot die einde en onbewus dat hy afgesterf het, het altyd gehoop dat hy haar sou kom haal en het vir baie jare by die houtvuur in die Dullstroom Inn gesit en wag.


Monsieur Ibrahim en die blomme van die Koran (resensie)
Eric-Emmanuel Schmitt
Human & Rousseau
Resensie deur Ruan Fourie.
“Dit wat nie bestaan nie, moet jy aankweek: dis bedoeling,” skryf Rumi. In Monsieur Ibrahim en die blomme van die Koran kom ’n mens ’n jong, ontwikkelende individu teë. Sy naam is Momo, ’n bynaam afgelei vanaf Moses, en ’n mens sien spoedig dat dié novelle deur die bekroonde skrywer Eric-Emmanuel Schmitt gemaklik die oorgang kan maak van die teikenmark van jongmense na volwassenes.
M. Ibrahim is uit die oorspronklike Frans vertaal deur Naòmi Morgan, wat ook die vertaling behartig het vir Oscar en die Pienk Tannie; sy het dit ook na ’n bekroonde eenvrouverhoogstuk verwerk. M. Ibrahim is, nes Schmitt se ander bekende skrywe, ’n verhaal vol humor, wysheid en deernis. Dieselfde vermoë om die hartsnare te roer lê egter nie ooglopend daarin opgesluit nie.
Momo se storie begin waar hy pas 13 geword het en alleen van homself ’n man te maak deur sy spaarvarkie oop te breek en by die straatvroue te gaan kuier in die rue de Paradis. Hy bly saam met sy pa, en sy verhoudings met sy familielede is óf swak en ongesond, óf afwesig (sy ma is kort ná sy geboorte fort). Omdat sy pa bedags werk, is Momo in beheer van huishoudelike take, inkopies doen en om boek te hou van alle onkostes (omdat sy pa glo Momo besteel hom). Hy doen sy inkopies by ’n kruidenierswinkel in rue Bleue, en dis hier waar hy vir monsieur Ibrahim ontmoet.
“Monsieur Ibrahim was nog altyd oud gewees.” Momo se verhouding met hierdie Arabiese kruidenier in ’n Joodse straat begin kort nadat hy sy spaarvarkie gebreek het: omdat sy pa hom in elk geval van diefstal bedink, steel hy gereeld ’n blikkie by die kruidenierswinkel. Sy eerste gesprek met die kruidenier verloop aanvanklik in die vorm van ’n daaglikse, enkele sin, uitgestrek oor ongeveer ’n week. ’n Kosbare en opregte vriendskap word egter hieruit gebore. Monsieur Ibrahim deel graag sy wysheid met Momo (opgegaar uit sy lewenservaring sowel as sy Koran). Die blomme van die Koran is verwysend na die brokkies wysheid wat Momo deur monsieur Ibrahim bykry, soos wat hulle vriendskap ontluik.
Die novelle se verteltrant maak dit, in sekere (verganklike) instansies, sigbaar dat dit ’n vertaalde teks is. Die impak van die Franse adieu (letterlik vertaalbaar as “tot God (ons weer by mekaar bring)” word doodeenvoudig nie heeltemal in die Afrikaanse vaarwel vasgevang of uitgedruk nie; adieu is binne die konteks van Momo se grootword- en leerproses baie meer effektief. Teen die tyd wat Momo en monsieur Ibrahim ’n reis na “die see der seë” onderneem, skitter die vertaling egter, waar eg-Franse uitdrukkings effektief in Afrikaans geplaas word (byvoorbeeld by “sy swaai die septer oor driehonderd uitgehongerde melkbaarde,” terwyl die oorspronklike Frans maklik kon vertaal na “sy was deug bewus dat sy oor driehonderd dorstige pubertale regeer het”). Morgan se vertaling bring wel die kern van die storie tot onder die leeslig van die Afrikaanse mark.
Die storie dra nie dieselfde krag of deernis as Schmitt se vorige bekende werk nie, maar dit behaal steeds die status van ’n literêre juweel — miskien ’n pêrel. Deur Momo se lewe en reaksies op sy struikelblokke leer die leser, saam met hom, hoe belangrik dit is om lief te hê (en hoe belangrik dit kan lyk om aan jouself te bewys dat mense jou kan liefhê). Enige tragedie of hartseer in die novelle word egter ietwat bot hanteer; hoewel hartroerend en met deernis, word die ongemak elke keer eerder opsy geskuif en daar word plek gemaak vir vooruitgang. Dit pas egter effektief in Momo se emosionele woordeskat.
Dit wat nie bestaan nie, word aangekweek, hetsy dit aanvaarding, liefde, ’n vriendskap, begrip of ’n oorwinning is. Hoe wonderlik is dit nie net nie: jou liefde vir iets (of iemand) is jou eie — dit wat jy gee, is joune vir altyd — wat jy terughou, is vir altyd verlore. Rumi het immers geskryf: die liefde is ’n wolk wat pêrels strooi. Die storie van Momo en monsieur Ibrahim is ’n vriendskapsliefdesverhaal. Indien nie ’n pêrel nie, beslis ’n pistasieneut: binne ’n growwerige dop skuil daar beslis groen, vrugbare lewe; ’n mooi verhaal van wording.
​
Pleisters vir die dooies (resensie)
Fanie Viljoen
LAPA
Resensie deur Ruan Fourie
Pleisters vir die dooies word nie deur ’n waarskuwing ingelei, soos Fanie Viljoen se vorige rowwe(r) rit BreinBliksem nie – dit is die leser se verantwoordelikheid om raak te sien dat dié roman nie vir sensitiewe lesers is nie. Die roman handel oor ’n naamlose antiheld: ’n aanhanger van Kurt Cobain en Nick Cave and the Bad Seeds wie se siel waarskynlik effens ouer is as sy liggaam – ’n argetipiese Holden Caulfield, nou in ’n Afrikaanse wêreld te lese.
Die leser kom in die eerste hoofstuk al agter dat hulle met ’n donker, mishandelde siel (met effens melodramatiese streke) op hande sit. ’n Mens verwag dus cult classics: The Catcher in the Rye, dalk A Clockwork Orange, verwysings na Jim Morrison of Kurt Cobain (die 27-klub). Die karakter en sy broer sit met ’n mishandelende pa in die huis, ma-loos, en die hoofkarakter beskik oor bevraagtekenbare psigiese gesondheid. Hy dra ’n donker binne hom, en hy beplan ’n skoolskietery die volgende dag. Maar eers “’n aand vir laastes … om die donker ding binne-in [hom] beter te leer ken, te voel hoe hy sy vlerke uitstrek en sy vuiste bal”.
Die tema van skoolskietery herinner aan Jodi Picoult se Nineteen Minutes, en dalk selfs Lionel Shriver se We Need to Talk About Kevin. Pleisters vir die Dooies speel egter in ’n plaaslike (hoewel naamlose) stad af, in hoogs verstaanbare Afrikaans. Die verloop van die roman is ook heelwat anders uitgelê as hierdie Engelse romans. ’n Interessante nuwe blik word gebied op die psige van ’n skoolskieter. Die leser kies nie noodwendig die hoofkarakter se kant nie, maar dit is wel moontlik om in te sien waardeur hy gaan.
’n Mens maak dus die aand met hom mee, waar hy die stad invaar en verskeie interessante karakters leer ken. Voor hy hulle hek sluit wanneer hy vertrek, tjank hulle hond saggies vir hom. Dis duidelik dat hy nie meer homself is nie. Sy paadjie het tot ’n einde gekom. Hoewel die innerlike monoloog van ons protagonis plek-plek ongemaklik voorkom (die woord “moroon” bots byvoorbeeld met “Bastard!”, so-ook die ongemaklike verklaring “Ek is ’n rockster”) kry ’n mens ’n goeie idee van die karakter se sin vir eksplisiete poëtika. Die simbole wat vir hom van belang is, is al vantevore raakgesien, maar hy ervaar dit persoonlik en neem dit persoonlik aan. Dit waarby hy aanklank vind is in sy eie ervarings en gevoelens gevestig.
Die boek is in vyf afdelings verdeel, met verdere verdeling in hoofstukke wat wissel van een tot vyf bladsye. In die eerste afdeling, getitel “Verlosser”, ervaar hy sy eerste ontmoeting vir die aand: ’n nar, woonagtig as deel van ’n reisende sirkus. Dit roep die Romeinse Panem et circenses op: die vermaak wat manslag vir toeskouers gebied het, maar hier is die toeskouer die hoofkarakter (of die slagoffers, of die leser self). Hy neem, stilletjies, ’n gladiator-identiteit aan. Van die begin af het hy beplan om sy mede-klasgangers se lewens te neem, maar in die brandewyndrinkende nar (almal het maar hulle vise) se geselskap kom die kontras tussen die gewondes en die geweldenaars van die wêreld meer na vore.
Soos die karakter en die storie vorder, ervaar die leser saam met die karakter sy innerlike worsteling met sy donker self. Sy herhaaldelike verwysings na “die donker” kom plek-plek melodramaties voor, maar dit is gepas vir die karakter ter sprake. Hy het, immers, nie eers ’n naam nie – wat gee ons die reg om uitsprake te maak oor sy denkstrome? Bloed is volop in die roman, maar uitgesprei – nooit liters nie, net genoeg om ’n donkerrooi gloed aan die donker narratief te gee. In die verdere afdelings van die roman herbesoek ons die gedagte aan mense wat soos sterwende duiwe val, “dan ’n laaste keer na die wêreld kyk, en sterf”. Die dooie duiwe is ’n belangrike poëtiese element wat uiters effektief aangewend is tot by die slot van die laaste hoofstuk (onder die afdeling “Pleisters vir die Dooies”).
Ná die nar en dié se donkerder werklikheid agter die sirkusgordyn — selfs diegene wat betaal word om te vermaak, steek baie pyn weg — word die hoofkarakter ooggetuie vir die wêreld wat oopmaak ná die son gaan sak. Hoe verder hy hierdie wêreld verken, hoe minder duidelik kan dit word vir die leser: sekere gebeure skok en verwar, terwyl ander volkome sin maak met net ’n vae bewustheid van die Suid-Afrikaanse misdaadsisteem as agtergrondkennis. Die byna distopiese aard van die stad in Pleisters vir die Dooies opgeteken bereik ’n klimaks in afdeling vier, “Ultrageweld” (herroep A Clockwork Orange se Alex en sy vriende se voorkeur vir Beethoven en ultraviolence). Magsposisies en die grens tussen dier en ondier, lewe en dood, kom hier ter sprake.
Deur die loop van die roman is ’n mens ooggetuie vir die vervorming van die paria: uiterlike voorkoms sowel as innerlike samestelling. Dié aand vir laastes bring heelwat verskille mee. ’n Mens betree die gedagtes van ’n skoolskieter en wonder of die aanvallers in plaaslike (sowel as oorsese) skoolaanvalle ’n soortgelyke reis onderneem het. Pleisters vir die Dooies is dramaties, skokkend, ontstellend, insiggewend; en die naamlose hoofkarakter bly oordadig poëties tot die einde toe. Vir lesers wat nog nie die ‘donkerder’ kant van die wêreld verken het nie, kan dit belangrike intertekstuele paadjies aanwys. Lesers wat wel voel die gedagtes in die boek opgeteken is so te sê hul eie, kan dit toelaat om hulle gerus te stel: jy is nie alleen in die wêreld nie, en hierdie karakter dra dalk selfs jóú naam.
​
​








