top of page
Music Equalizer

BOERE RAAD






 

RADIOSAMBOERERAAD1.png

EET jou wortels, my kind. Dis goeie, ordintlike medisyne vir jou oë. En moenie jou beet vergeet nie. Hoekom dink jy het Ouma self sulke fênsierige rooi wange?”Só het Ouma mos altyd met oorwoë wysheid geredeneer wanneer ons kinders oor die etenstafel so suur gesluk het aan ons groente. Soms moes sy selfs ietwat hardhandig ingryp—wanneer ons lepelsvol gewraakte spinasie en pampoen vir die kwylende Dobermann onder die tafel wou voer.

“A nee a,” sou sy ons dan betig, “spinasie is vol yster wat jou so sterk maak soos Pop-aai. En pampoen gee jou krulhare. Hoe dink julle sal ou Wagter nou lyk met golwende poedel-hare en boonop bultende spiere soos ’n superheld in die comics?”Ouma se idees van die voedingswaarde van groente was sekerlik deurspek met verskeie ongelooflike wolhaar-gelofies. Maar minstens vyftig persent van haar uitsprake het tog ’n wetenskaplike basis gehad, besef ’n mens vandag... al het sy self nooit êrens enigiets van die medisinale werkinge van vitamiene geleer nie.

Feit is, al raak die wêreld van medisyne steeds meer hipertegnologies en gesofistikeerd, bly boererate vandag baie mense se heel eerste verdedigingslinie teen siektes.
En met goeie rede. Sulke rate is immers van geslag tot geslag oorgedra en moes hulself tog seker bewys het onder die spesifieke families wat so lank aanhou om daarby te sweer.
Soos ’n kenner van volkskulture en volksgeneeskunde dit stel: “Boererate is die resultate van eeue se probeer en fouteer en weer probeer totdat middels gevind is wat werklik werk.”

Een van die beste voorbeelde is die Chinese tradisionele geneeskunde met sy natuurlike medisyne wat oor duisende jare heen beproef is en vandag omtrent enigiets kan vermag—van die verlaging van bloeddruk tot die opkikkering van die menslike gestel.
“Eet varklewer,” word ons byvoorbeeld deur ’n Chinese dokter aangeraai. “Dit kan jou oë help om beter te sien en kan boonop jou bloed meer woema gee.”

As dit vir jou vreemd klink, lees wat vertel ’n bekende Vrystater wat om verstaanbare redes verkies om anoniem te bly: “Toe ek ’n kind was, was ek so gepla met maagpyn en ’n los maag dat af en toe eenvoudig nie gou genoeg by die buitelatrine op ons kleinhoewe kon uitkom nie. Gelukkig het ek goeie raad gehad. Ek het elke keer ’n dikkerige pap van meel en water in ’n koppie aangemaak en dit net so afgewurg. Die maagpyn was dan gou verby.

“Maar ek het ook al gehoor van ’n ma wat sardiensolie aan haar kinders se nekke gevryf het wanneer hulle pampoentjies gehad het,” vertel hy verder. “Arme kinders. Hulle het seker die hele tyd lê en yl terwyl hulle hulle verbeel het hulle is op ’n vissersboot.”

VIR BAIE boererate hoef ’n mens niks verder te soek as die kombuis nie:

  • Kruiedokters verkondig al lank dat skyfies rou aartappels of uie die byte of steke van insekte kan verlig.

  • As jy oorpyn het, kan jy ’n bietjie knoffel of uiesap net so effentjies warm maak. Gooi ’n paar druppels in die oor en verseël dit met ’n wattepluisie. Dit help om olie en slym in die oor op te breek en om infeksie te beveg.

  • As jou keel seer is, gooi ’n bietjie sout in warm water en gorrel.

  • As jy ’n hoesmiddel nodig het, probeer heuning in water met suurlemoensap of appelasyn.

Hoewel ’n mens moet onthou dat geen boereraat die plek van jou dokter kan inneem by ernstige siektes nie, lyk die rate hierbo almal betreklik onskuldig. Dit geld veral vir minder ernstige ongesteldhede.

Wanneer jy diep in die volksgeneeskunde delf, kom jy egter ook op die eienaardigste voorskrifte af.So was daar die ma wie se “medisynekis” grootliks bestaan het uit ’n koerant, ’n ou sokkie, koffiemoer, aartappels, knoffel en olyfolie. Daarmee het sy ’n hele rits kwale behandel, vertel haar dogter, ene Rosemary.

“As jy hoofpyn gehad het, is ’n lap met rou aartappelskyfies en koffiemoer daarbinne oor jou voorkop gebind.“Wanneer jou oor gepyn het, het Ma ’n paar druppels olyfolie in jou oor gegooi. Dan het sy ’n koerant soos ’n kegel opgedraai, die smal punt in jou oor gedruk en die ander end aan die brand gesteek.

“Vir ’n seer keel moes ons ’n sokkie—’n warm sokkie—om die nek bind.“Maagpyn het Ma behandel deur olyfolie op jou maag te vryf en ’n huisie knoffel in jou naeltjie te druk.“Die wonderlikste van alles,” sluit Rosemary af, “is dat party van daardie rate jou werklik gewerk het!”

“Maar hoe dan ook anders?” is die kommentaar van ons kenner van volkskulture. “Mense het vroeër dae gelag vir ons boere wat ’n koperwieltjie aan hul ploeg geheg en beweer het dat die nederige wieltjie hul oeste help vergroot.“Noudat ons weet dat saaigrond ook spoorelemente soos koper nodig kan hê, besef ons ook dat ons nie alles as belaglik moet beskou wat ons nie verstaan nie . . .”

En les bes uit Ouma se Rate- en Resepboekie
(Dis stellig ’n baie ou publikasie, waarvan die skrywer van hierdie artikel slegs ’n paar uittreksels gevind het. Dit is deur iemand met ’n ou tikmasjien oorgetik op twee bladsye wat nou reeds geel en verbleik is.)

Hoes: Kook ’n hoendereier. Eet die helfte en spoeg op die ander helfte en begrawe dit in ’n miershoop. Moenie weer omkyk nie. (’n Mens kan nogal wonder watter verskrikking sal jou tref as jy wel omkyk. Sal jy in ’n hoesende soutpilaar verander, amper soos met Lot se vrou gebeur het?)

Krampe: Sit jou regterskoen voor die linkerskoen neer, sodat die een se toon na die ander een se polvy kyk. DIe kramp sal verdwyn.

Tering: Maak ’n rooijakkalslewer droog en maak dan poeier daarvan. As die lyding erg is, neem ’n mespuntvol, drie maal per dag, anders net een maal.

Asma: Groen koring laat trek en drink.

Vir jig wat groot knoppe veroorsaak: Neem ’n halwe bottel asyn en gooi ’n sikspens (ou silwermunt gelyk aan ses pennies) se rissies daarop. Laat staan vir vier uur en smeer aan die knoppe.

Vallende siekte: Plaas 2 lepels gesaagde nieshout op ’n halfbottel brandewyn. Neem een kelkievol twee maal per dag.

Sinkkoors-sere: Neem ’n paar rosyne. Haal die pitte uit. Maak dit fyn en gooi ’n bietjie terpyn by en maak ’n pleister daarvan. Sit op seer.

Trekkings: Trek voëlent net soos tee en drink.

Seer oor:  Maak bokgal, ’n weinig soetolie en vyf druppels bruindulsies deurmekaar en gooi in die seer oor.

Stuipe: Drink ’n paar druppels rooi laventel met wit hoendermis in. (Baie mense sal eerder die blouapiestuipe kry as hulle so iets drink en eers agterna verneem wat hulle gedrink het.)

’n Mens kan beslis wonder wat die arme pasiënte destyds die ergste gevind het—die siekte of die behandeling.

bottom of page